Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die belangrikheid en omvang van padvervoer baie toegeneem in vergelyking met die tradisionele vorme van vervoer, soos vervoer oor water en per spoor. In die meeste lande is padvervoer aan die bepalings van spesifieke wette onderworpe omdat dit in die belang van die markordening, die beheer en beskerming van bestuurders en die verkeersveiligheid is. Markordening sluit in die redelike verdeling van die mark tussen die verskillende vorme van vervoer (water, spoor, pad), sowel as die beheer binne die padvervoerbedryf self.
Laasgenoemde het groter betekenis gekry tydens die ekonomiese resessie in die sewentigerjare, toe 'n oorkapasiteit byna ontstaan het. Die beroepsgoederevervoer bestaan hoofsaaklik uit 'n groot aantal kleiner ondernemers, dikwels met slegs een of twee vragmotors, maar in Suid-Afrika bestaan daar ʼn tendens om groter ondernemings deur amalgamering tot stand te bring. Parallel aan die algemene padvervoerdienste het gespesialiseerde goederedienste ontstaan (houer- en tenkvervoer).
In Suid-Afrika beheer die Suid-Afrikaanse Vervoerdienste 'n groot deel van die gespesialiseerde dienste. In Europa het ook die padvervoer oor baie lang afstande vinnig ontwikkel. Daar bestaan byvoorbeeld padvervoerdienste tussen Wes-Europa en die Midde-Ooste.